Tuesday, June 10, 2008

Micca

Hallo julle

Ek het in die vorige inskrywing vertel dat Jodi en Pancho Micca se kinders is. Wel, hier is dan Micca se storie.

Micca is in April 1995 gebore, op Ayton Manor in Izotsha op die Natalse Suid Kus, net binneland van Shelly Beach. Ek het die advertensie vir Border Collie puppies in ons plaaslike koerantjie gesien, en omdat Timmy toe al 14 jaar oud was, was dit tyd om weer enetjie te kry. Ek het seker drie of vier van haar boeties en sussies opgetel voordat ek haar opgetel het – hulle almal was "gorgeous" maar toe ek haar optel en in haar ogies kyk het ek geweet sy is myne. Haar naam is ‘n verkorting van Mikayla, soos in “Dr. Quinn, Medicine Woman”, my gunsteling TV program op daardie stadium. Van kleins af het Micca gewys sy is baie slim maar ook eiewys, met 'n willetjie van haar eie. Ek dink nie sy het my ooit as haar "baas" gesien nie - ons was gelykes, vennote en vriende ... sy was vir my pragtig - klein en fyn gebou, met lang bene en groot ore.

Micca het in 1997 ma geword van sewe kleintjies. Wat ‘n fantastiese mamma was sy nie gewees nie – baie besorgd en beskermend teenoor hulle. Dit was vir my traumaties om van vyf van hulle huise te kry en te moet laat gaan toe hulle agt weke oud was – gelukkig het Jodi en Pancho gebly...!

Die enigste nadeel van die puppies was dat hulle fisies baie uit haar uit geneem het, en Micca se immuun sisteem was nooit weer daarna dieselfde nie. Sy het 'n velkwaal ("demodectic mange") ontwikkel, en dit het al hoe erger geword hoe ouer sy geword het. Sy het dus baie vroeg baie oud gelyk.

Ten spyte daarvan was sy pragtig, en 'n perfeksionis (as daar nou al ooit 'n hond was wat een genoem kon word)! Sy was baie senuweeagtig voor 'n rondte, so senuweeagtig dat haar tande letterlik op mekaar geklap het. Sy wou haar beste doen en het geweet wanneer sy goed gedoen het - baie trots en vol selfvertroue terug bakkie toe geloop - en ook wanneer sy nie goed gedoen het nie deur byvoorbeeld 'n jump te gestamp het - sy het dan baie skaam en bedruk, met haar oortjies plat teen haar koppie, terug bakkie toe geloop. Maar sy het baie sukses behaal, deur:
- die KZN Dog Jumping Champs by die Royal Show te wen in 2000
- 'n Dog Jumping Champion te word in 2000
- die Inter-Provincial Flyball by World of Dogs and Cats te wen in 1997
- Hibiscus Kennel Club se "Best Overall" te wen in 1997
- Individual Flyball by die World of Dogs and Cats te wen in 2002
- twee keer deel van die span van 4 te wees wat Inter-Provincial Dog Jumping wen (een keer by
Gilooly's in Bedford View in 1999, en de ander keer by die Randse Paas Skou in 2001)
- 3de te kom in die SA Dog Jumping Champs in 2001
- haar KZN Kleure vir Dog Jumping te kry in 2002



In 2005, toe sy 10 jaar oud was, moes ons die verskriklike besluit neem om "Oom Dokter" te vra om haar van die pyn, juk en ongemak van haar velkwaal te verlos ... ek het die kort gediggie vir haar geskryf so 'n rukkie daarna:

My meisiekind, ek dink baie aan jou.
Jy was so pragtig,
so vol lewe
My meisiekind, ek sal jou altyd onthou.

En dit is so - ek sal haar altyd as my baie spesiale meisiekind onthou. Van Jodi en Pancho, is Pancho se geaardheid meer soos Micca, en sy het dus gehelp om die leemte te vul toe Micca weg is.

Xanika, Sharona en Harvey, dankie vir julle ondersteuning en verstaan op die vorige inskrywing - ek waardeer dit ontsettend baie! Dit gaan al beter - simpel van my gewees!
Volgende keer wil ek van my gunsteling foto's plaas.
Tot dan, mooi bly.
Liefde
Ninette

No comments:

Post a Comment