Wednesday, May 14, 2008

Timmy en Pandy

Hallo julle.

Verder oor my honde – voor Jodi, Pancho, Baloo en Dazzle het ek drie ander Border Collies gehad. Ek vertel hierdie keer van die eerste twee.







Timmy (links) en Pandy (regs)

Eerste was daar Timmy, ‘n sag-geaarde liefdevolle hond as daar nou al ooit een was. Ek het hom as ‘n vier-maand oue puppy by die DBV in Carletonville uitgekies toe ek so 10 jaar oud was. Al die ander honde het teen die hokke opgestaan en geblaf, maar Timmy het eenkant doodstil gestaan en saggies sy stert gewaai terwyl hy na my kyk. Ek het dadelik geweet ek wil hom he.


Hy was op die lelike-eendjie fase, en toe my pa hom sien was sy kommentaar “As jy ‘n mooi hond wil he kan ons hom terug vat DBV toe en ek kry weer vir jou ‘n spaniel” (my eerste hond was ‘n swart spanieltjie, Gambit), maar ek wou Timmy, nie ‘n “mooi” hond he nie. Anyway, Timmy het toe in die pragtigste hond uitgedraai. Hy was ook die eerste hond met wie ek aan Dog Jumping kompetisies begin deelneem het in 1985. Hier is ‘n foto van ons tydens ‘n kompetisie – ek sou skat dis einde 1985, begin 1986 geneem (laat net een van julle ******* lag …). Hehe !!

Daar is ‘n klomp dinge wat ek van Timmy onthou:
- Die dag wat hy by ons aangekom het, het hy in die swembad ingeloop. Duidelik het hy nooit voor dit ‘n swembad gesien nie. Ek moes hom uit die water uit gryp.
- Hy het altyd teen ons ousie, Rebecca, opgespring, dan kom sy in die huis in met modder pootmerke op haar klere en se “Hauw, die Tommy, hy’s stout!”.
- Ek is oortuig hy het ons lewe gered toe ons terug kom van vakansie die een jaar. Ons kar het gaan staan naby Heidelberg, en ‘n kar vol swart mans het stil gehou aan die oorkant van die pad. Die een het uitgeklim en oor gestap na ons toe. Tim was vas aan die slaap op die agterste sitplek, maar toe hy die man hoor en sien het hy opgespring en geblaf. Die ou het so geskrik dat hy terug in sy kar geklim het en hulle verder gery het.
- Hy het die een dag na ‘n Duitse Herders Hond gehap soos die hond verby hom loop … gelukkig was die hond (en die hond se eienaar) onbewus daarvan. Maar het dit snaaks gelyk!
- Hy was ‘n groot "show-off" voor mense: hy was mal oor Dog Jumping en die applous en gelag van die skare – hoe meer hulle gelag het, hoe meer het hy na hulle gekyk en hoe stadiger het hy deur die vlegpale gegaan … en hy’t ook geweier om plat op die “pause box” te gaan le …. Voorlyf plat maar agterstewe in die lug, tot groot vermaak vir almal behalwe vir my …!
- Hy was absoluut mal oor klein kinders en het na hulle met sulke “adoring eyes" gekyk.


Toe in 1986 het ek my tweede Border Collie, Pandy (sy geregistreerde naam was Tilehouse Trouble) gekry van ‘n meisie met die naam Debbie John in Durban. Jinne, ek kon nie glo hierdie klein ronde, chubby Panda Beertjie (vandaar sy noemnaam) was myne die dag toe ek hom kry nie. Soos my huidige klein Pancho het hy ‘n spierwit gesig gehad, maar dit was grooter as wat Pancho s’n is en hy’t meer swart “eye-liner” om sy oe gehad. Pandy was besonder slim en ons het goed gevorder in Obedience – die Novice klas met 98% geslaag toe hy nog nie eers twee jaar oud was nie. Hy was ook baie vinniger as Timmy met Dog Jumping. Hy was geheel en al MY hond: terwyl Timmy verdeelde loyaliteite tussen my en my ma gehad het het Pandy net op my gefokus. Ek was absoluut mal oor hom maar hy was ‘n handvol – hy het nie van ander honde (behalwe Timmy en ons ander klein hond) gehou nie. Ek onthou die een keer by ‘n skou kom ek en Pandy deur die “finish” en die vrou wat ek Baloo en Dazzle by gekry het wag met haar hond, Pascha, by die “start”; Pandy en Pascha het nie ooghare vir mekaar gehad nie, en die twee van hulle ontmoet toe in die middel van die baan en dit was met ‘n gesukkel wat ons hulle uitmekaar gekry het....!

Timmy en Pandy was groot maats, en ons drie se gunsteling tye was Sondae na kerk wanneer ek, my ma, Tannie Venita en Oom Martin uitgery het Trafalgar strand toe vir die dag. Daar het hulle seevoels gejaag, in die lagoon geswem en hulle gate uit geniet.

Dit is vir my nou nog bitter hartseer om oor te praat, maar toe ek in 1990 universiteit toe is kon my ma nie met Pandy “cope” nie – hy was vers te sterk vir haar, en is hy toe Lugmag toe in Pretoria waar hy deel geword het van hulle “display-team”. Toe ons later bel om te hoor hoe dit met hom gaan is ons vertel hy is dood en hulle weet nie hoekom nie …. ek het so gehuil. Ek mis hom nou nog en sal seker altyd omdat hy nie by my was tot die einde toe nie. Timmy is in 1995 dood, so twee weke nadat ek vir Micca gekry het. Hy was 14 jaar oud en het ‘n beroerte aanval gehad .. die laaste paar maande het hy sy koppie so skeef gehou. Hy was regtig ‘n dierbare hond. Ek mis hom ook, maar anders as vir Pandy omdat daar tyd was om afskeid te neem en daar dus “closure” is.

Nou ja, tot volgende keer, wanneer die inskrywing oor Micca sal wees.

Liefde
Ninette

N.S. Dankie vir julle comments sover.
- Linda - the birds, and not only the dogs, are a great deal of fun, especially Yoko who is a
real character
- Harvey - I did not know about your Border Collies .... they are the best breed ever, hey?
(For those that don't know, Harvey is the webmaster of Steve Hofmeyr's blog which can be
found at http://stevehofmeyr.co.za/blog/ ; go and visit it - it is really a great blog and
what is responsible for getting me hooked on blogging ...)
- Deidre - so goed om na so lank weer van jou te hoor. Ja, die blog is 'n lekker manier om
weer op nuus op te vang ..

1 comment:

  1. Is baie duidelik hoe mal jy is oor border collies! Ons het een keer een present gekry, maar my ma het baie vinnig vir hom blyplek op 'n plaas gesoek, hy was net te lewendig vir ons klein dorpserfie!

    ReplyDelete